Labori is 'n unieke meerstromige skool wat drie studierigtings aanbied:
Tegniese, Handel- en Algemene Akademiese studierigting
LABOR OMNIA VINCIT
(Arbeid Oorwin Alles)
Wapen: Op ‘n rooi agtergrond is ‘n regop-geplaaste silwer suil tussen twee kamratte van goud . Op die silwer suil is ‘n ronde skyf van blou belaai met ‘n fleur-de-lis van goud; op die silwer skildhoof van silwer is ‘n rooi mercuriushoed.
Wapenspreuk: Labor Omnia Vincit
Betekenis: Arbeid oorwin alles.
Die klassieke Mercuriushoed met sy twee vlerke in die skildhoof (in rooi op silwer) word as simbool van handel gebruik, soos ook die sg. Mercuriusstaf in die wapen van die eertydse Kaapse Tegniese Kollege.
Op die hoofgedeelte van die skild (met ‘n rooi agtergrond) is die silwer suil of pilaar, simbool van standvastigheid en wysheid.
Op die suil: ‘n goue fleur-de-lis op ‘n blou skyf simboliseer die Paarl (deel van die Paarl se wapen) en is ook eie aan die provinsiewapen. Die goue kamratte aan weerskante van die suil is simbolies van die tegniese studierigtings en gee ewewig aan die wapen as geheel.
Die goue band met die wapenspreuk daarop dien as fondament of stut en rond die geheel af.
Die Latynse selfstandige naamwoord, LABOR,-ORIS beteken onder meer werkkrag, werklus, inspanning en geestelike of verstandelike inspanning.
Soos gebruik deur Cicero en Caesar: Energie en vlyt
Soos gebruik deur Cicero en Caesar: Taak, moeitevolle inspanning, kordaatstuk en prestasie
(Soos gebruik deur Vergilius en Caesar)
SKOOLLIED
In die Paarl van die Boland
Met Paarlberg aan Westekant
Pryk ons skone sieraad, Labori
Tegniek, handel, teorie
“Labor omnia Vincit” toon
Troue werk bring ryke loon
Fier gaan ons die toekoms in
Dis hier waar vlyt oorwin
Ons sal sing oor Labori
Ons sal werk in harmonie
Labori, Labori!
Staan sterk en trots en fier!
Skoollied begeleiding
Skoollied opname
Hoër Tegniese Skool
Aan elke ouer wat volgende jaar moet besluit na watter hoërskool u u kind moet stuur sodat u ‘n ingeligte besluit kan neem tot voordeel van u kind...
Dalk is u ook een van die (baie) ouers wat dink dat ‘n tegniese skool die skool is waarna leerders wat akademies sukkel gestuur moet word sodat hy of sy darem eendag na skool werk kan kry. Hierdie is egter baie ver van die waarheid af. Tegniese skole is NIE vir leerders wat akademies sukkel nie. Alle leerders wat tegnies neem moet twee van die moeilikste vakke wat enige skool kan aanbied neem, naamlik Wiskunde of Tegniese Wiskunde (wat ongeveer 70% van die moeilikheidsgraad van Wiskunde is) en Fisiese Wetenskappe of Tegniese Wetenskappe (wat ongeveer 70% van die moeilikheidsgraad van Fisiese Wetenskappe is). Dit sal dus makliker wees vir ‘n leerder wat akademies sukkel om in ‘n nie-Tegniese skool sy of haar graad 12-sertifikaat te verwerf, omdat hy of sy minder uitdagende vakke kan neem. Voeg daarby dat die leerder ook nog IGO moet neem waar hulle presiese drie-dimensionele konstruksies moet kan maak en dat hulle ‘n belangstelling en aanleg in die tegniese rigting moet hê en ‘n mens wonder waarom die publiek praat van Akademiese skole en Tegniese skole asof ‘n Tegniese skool nie ‘n Akademiese skool is nie.
Eerstens berei ‘n Tegniese skool ‘n leerder voor vir die tegniese wêreld, soos om ingenieurswese aan ‘n universiteit, tegnikon, of kollege te gaan studeer, of om ‘n ambag te volg. Dit lei hom nie noodwendig op vir ‘n ambag nie, maar stel hom daaraan bekend. Dit lei hom ook nie op as ingenieur nie, maar berei hom daarvoor voor. Dit is so dat ‘n leerder wat Wiskunde en Fisiese Wetenskappe by enige skool neem, toegang tot die ingenieurswese kursus het, maar ‘n leerder wat by ‘n Tegniese skool was, het die voordeel dat hy of sy al reeds in een van die ingenieursrigtings inleidende bekendstelling en opleiding ontvang het. Hulle weet dus van dag een af waarvan die dosente praat terwyl ander studente al hierdie inligting vir die eerste keer hoor. Ambag- en vaardigheidsskole berei leerders uitsluitlik voor vir ‘n ambag, en lei hulle ook daarin op. Dit moet nie met Tegniese skole verwar word nie.
Indien die leerder nie verder wil of kan studeer nie – en kom ons wees eerlik hieroor, ons het heeltemal te min universiteite en kolleges om almal die kans te bied om verder te studeer – kan hy of sy dadelik na skool inskakel by die talle werksgeleenthede wat die industrie bied. Baie van hierdie firmas laat dan die leerder op hulle onkoste verder oplei sodat ‘n hardwerkende persoon binne ‘n paar jaar sy of haar eie besigheid kan begin of moontlik al in ‘n bestuursposisie kan sit.
As u kind dus gereed is vir die uitdagings wat ‘n ingenieursrigting bied, is ‘n Tegniese skool die plek waar hy of sy ‘n regverdige voordeel kan kry.