Kultuur

DIE KULTUURKOMITEE

Aan die einde van hulle graad 9 jaar kan leerders aansoek doen om op die Kultuurkomitee te dien. Die fokus is om kultuur-aktiwiteite wat blootstelling aan die kunste bied vir die Labori-leerders te skep. Hierdie komitee vergader elke Dondermiddag na skool in die Kultuur-kantore om hierdie aktiwiteite te reël.

Hulle help, onder andere met die reël van die Damestee vir die senior dogters asook Labori’s Got Talent. Die Sutherland Naweek gee aan die fotograwe en sterrekykers die geleentheid om stokperdjies voluit uit te leef.

Jaarliks word nuwe idees bespreek, beplan en uitgevoer en nuwe idees is altyd welkom.

OMNIA PRODUKSIES

Die Omnia Produksie-span by Hoërskool Labori is verantwoordelik vir die skool se aanlyn-joernaal, wat ontstaan het uit die voormalige Omnia koerant.

Hierdie platform bied 'n verskeidenheid geleenthede vir leerders om hul kreatiwiteit ten volle uit te leef en waardevolle nuwe vaardighede aan te leer, insluitend skryfwerk, fotografie, videografie, ontwerp en onderhoudvoering. Die span speel 'n groot rol in die bemarking van Labori deur die trotse Viking-beeld en waardes deur middel van produksies op sosiale media platforms aan die publiek oor te dra.

Omnia Produksies streef daarna om op 'n innoverende wyse betroubare, alomvattende goedvoel-nuus te bring. Leerders van Graad 9 tot 12 kan betrokke raak deur aansoek te doen om deel van die produksie-span te word.

REDENAARS

Die kuns om ‘n gehoor te boei, te verstom en te oorreed deur middel van spraak.
Taal is ontwerp om te kommunikeer - om dit wat die hart van vol is so duidelik moontlik oor te dra.

Indrukwekkende sprekers word selde gebore, hulle word gemaak. Hulle is nie perfek nie, maar weet dat ‘n goeie redenaar oor baie meer gaan as die aflees van notas.

Indien jy passievol is en maniere soek om jouself beter uit te druk, BOU KARAKTER by die redenaarspan; slyp jou taalvaardigheid en vind jouself in die proses.

Oefentye is Woensdae 14:30-15:30 en kleredrag is gewone klere tydens oefeninge en skooldrag vir kompetisies. Kompetisies waaraan die leerders deelneem is ‘n Interne Gala-aand, ATKV, Podium Pret en Interskole.

DEBAT

Hier leer jy om op jou voete te dink. Hoewel argumente betrokke is, is daar streng gedragsreëls en is dit nie ‘n wedersydse uitskree-kompetisie tussen twee groepe met hul meningsverskille nie.

Wanneer jy die opponerende spanne dophou, kan dit intimiderend voorkom met sprekers wat vol selfvertroue en sonder twyfel argumente lig; maar hierdie vaardighede kan aangeleer en met groot vrug aangewend word.

Elke munt het twee kante; kom BOU KARAKTER by debat en leer om strategies en oorredend te argumenteer.

Oefentye is Woensdae 14:30-15:30 en kleredrag is gewone klere tydens oefeninge en skooldrag vir kompetisies. Kompetisies waaraan die leerders deelneem is interne skool debatte, die jaarlikse Taal Historium Debatskompetisie, asook Interskole.

DIE INTERACT KLUB

Die Interact Klub by Hoërskool Labori, geaffilieer met die plaaslike Rotariërs, bied leerders van Graad 8 tot 12 die geleentheid om leierskapvaardighede te ontwikkel terwyl hulle fokus op dienslewering.

Die klub maak leierskap opwindend deur betrokke te raak by Nie-winsgewende organisasies in die gemeenskap. Dit laat leerders toe om 'n verskil in hul skool en gemeenskap te maak, asook die verkenning van hul kultuurryke omgewing. Aktiwiteite sluit in gemeenskap-uitreike soos om by Tannie Magda se Sopkombuis te help, besoeke aan aftree-oorde, en deelname aan Parkrun op Saterdag-oggende. Die klub moedig ook gereelde bloedskenk aan en ondersteun projekte soos Paarl FM se “Keep a Girl in School”, waar sanitêre produkte vir minder bevoorregte dogters ingesamel word.

Jaarliks bied die Paarl Rotariërs aan leerders die geleentheid om die RYLA-kampe (Rotary Youth Leadership Awards) by te woon, waar hulle gereeld teruggenooi word as leiers. Gedurende die Junie-vakansie kry 'n leerder die kans om die “Adventures into Citizenship”-kamp by te woon, wat besoeke aan die hooggeregshof, parlement, en ander aktiwiteite insluit wat goeie burgerskap bevorder. Die leerders wat hierdie geleenthede benut, word aangemoedig om hul nuwe kennis en ervaring by Labori toe te pas en sodoende die gemeenskap te verbeter.

PAARL JUNIOR STADSRAAD

Die Junior Stadsraad van Paarl bied 'n unieke geleentheid vir leerders van Hoërskool Labori om in 'n leierskaprol te dien en vriendskappe oor grense heen te bou. Drie graad 10- en drie graad 11-leerders verteenwoordig Labori op hierdie raad, wat saamgestel is uit ses leerders van elk van die 11 Hoërskole in die Paarl.

Dit is nie net 'n forum vir leierskapontwikkeling nie, maar ook 'n platform vir kulturele uitruiling en samewerking. Die leerders op die Junior Stadsraad neem deel aan verskeie inisiatiewe en projekte wat daarop gemik is om 'n positiewe impak op hul gemeenskap te hê. Hulle werk saam om gemeenskapsprojekte te beplan en uit te voer, en om 'n beter begrip van burgerlike verantwoordelikheid te ontwikkel.

FEEL GOOD FRIDAYS

Ons doen op Vrydagmiddae saam kuns vir die lekkerte daarvan. Ons verf, teken, werk met klippe, klei, en watookal ons kreatiewe juices aan die vloei kry! Hierdie is nie 'n kunsklas nie, dit gaan nie oor mooi of lelik, reg of verkeerd nie. Vir 'n rukkie kom ons net bymekaar om te wees, te ontspan, onsself kreatief uit te druk en ontslae te raak van dinge wat pla. Jy leer jouself ken hier; en jy kry die kans om te sien en te voel jy is deel van 'n groep mense soos jy, wat verstaan.

Soos een Viking gesê het toe sy na die groep se kunswerke kyk: "Hierdie is goud!" Want dit is diep en eerlik, pret en soms selfs 'n bietjie morsig, maar beste van alles, lekker.

Almal is welkom, of jy nou dink jy kan teken of nie. Ons is almal kreatief gebore. Soms vergeet ons net daai deel van ons bestaan. Miskien is dit tyd om jouself weer te herontdek?

Om deel te neem hoef jy net jouself saam te bring en oop denke - die kunsmateriaal word verskaf tydens die groep en gaan jou niks kos nie. So af en toe is daar selfs eetgoedjies.

Ons kom Vrydagmiddae direk na skool bymekaar, 14.05-15.30. Ter wille van inter-kommunikasie hou ons die groepe klein en daarom is daar net 'n beperkte hoeveelheid plekke beskikbaar elke week. So maak seker jy sit jou naam betyds op ons berader, Tannie Paulette, se deur aan die begin van elke week. Dus: first come, first served!

Kom maak 'n draai en kyk waarmee is ons hierdie week besig. Jy verras dalk jouself en geniet dit terdeë.

ENTREPRENEURSKLUB

Die Entrepreneursklub by Hoërskool Labori bied 'n opwindende geleentheid vir leerders van Graad 8 tot 11 om hul entrepreneurskapvaardighede te ontwikkel. Hier word leerders opgelei om hulle eie sakeplanne op te stel en 'n besigheid te begin. Ons beplan ook besoeke aan bestaande besighede om praktiese ervaring op te doen van entrepreneurs wat suksesvol hulle eie ondernemings bestuur. Die klub vereis toewyding en deursettingsvermoë, met weeklikse byeenkomste op Vrydagmiddae van 14:00 tot 15:30.

Leerders wat die program suksesvol deursien, ontvang 'n Entrepreneurskap-balkie, wat 'n waardevolle aanvulling is vir hul CV. Die Entrepreneursklub bied 'n platform vir leerders om hul kreatiwiteit en leierskapsvaardighede te ontwikkel terwyl hulle praktiese ondernemingsvaardighede aanleer, wat hulle voorberei vir 'n suksesvolle toekoms in die besigheidswêreld.

DIE LABORI KOOR

Hoërskool Labori is trots om sy splinternuwe koor bekend te stel, 'n lewendige en dinamiese groep wat toegewy is aan die kuns van sang. Hierdie toevoeging tot ons kultuur program is meer as net 'n koor; dit is 'n gemeenskap vir leerders met 'n passie vir musiek en 'n liefde vir sang uitvoering.

Ons koor is oop vir alle leerders wat 'n passie vir sang deel, ongeag hul ervaringsvlak. Of jy nou 'n gesoute sanger is of iemand wat jou musiektalente vir die eerste keer wil verken, die Hoërskool Labori Koor verwelkom jou met ope arms. Onder leiding van ons bekwame en entoesiastiese dirigent, sal lede die geleentheid kry om saam te leer en te groei en hul vokale vaardighede en musikale kennis te ontwikkel.

Sluit by ons aan terwyl ons hierdie opwindende reis aanpak en 'n diverse versameling van musiek uitvoer wat strek oor klassieke stukke, kontemporêre treffers en alles tussenin. Saam skep ons pragtige musiek, blywende vriendskappe en onvergeetlike herinneringe.