WAAROM TEGNIES?
Waarom ‘n tegniese hoërskool?
Aan elke ouer wat ‘n ingeligte besluit ten op sigte van die regte hoërskool vir u kind moet neem.
Dalk is u ook een van die (baie) ouers wat dink dat leerders wat akademies sukkel na ‘n tegniese skool gestuur word sodat hy/sy darem na skool werk kan kry. Hierdie is egter baie ver van die waarheid af.
Tegniese skole is NIE vir leerders wat akademies sukkel nie. Alle leerders in die tegniese stroom moet twee van die moeilikste vakke wat ‘n skool kan aanbied neem, naamlik Wiskunde (of Tegniese Wiskunde) en Fisiese Wetenskappe (of Tegniese Wetenskappe). (Beide TWisk en TWet is ongeveer 70% van die moeilikheidsgraad) Dit sal dus makliker wees vir ‘n leerder wat akademies sukkel om in ‘n NIE-Tegniese rigting sy/haar graad 12-sertifikaat te verwerf, omdat hy/sy ander minder uitdagende vakke kan neem. Voeg daarby dat Ingenieurs Grafika en Ontwerp (IGO) verpligtend is, waar hul presiese drie-dimensionele konstruksies moet kan teken en dat hulle ‘n belangstelling en aanleg in die tegniese rigting moet hê, is dit verbasend dat die algemene publiek verwys na Akademiese- en Tegniese skole; asof ‘n Tegniese skool nie ‘n Akademiese skool is nie.
Wat bied ‘n tegniese hoërskool?
Eerstens berei ‘n Tegniese skool ‘n leerder voor vir die tegniese wêreld, soos om ingenieurswese aan ‘n universiteit, tegnikon, of kollege te gaan studeer, of om ‘n ambag te volg. Dit lei hom nie noodwendig op vir ‘n ambag nie, maar stel hom daaraan bekend. Dit lei hom ook nie op as ingenieur nie, maar berei hom daadwerklik voor. Dit ís so dat ‘n leerder wat Wiskunde en Fisiese Wetenskappe by enige skool neem, toegang tot die ingenieurskursusse het, maar ‘n leerder wat by ‘n Tegniese skool was, het die voordeel dat hy/sy alreeds in een van die ingenieursrigtings bekendstelling en inleidende opleiding ontvang het. Hulle weet dus van dag een af waarvan die dosente praat terwyl ander studente al hierdie inligting vir die eerste keer hoor. Ambag- en vaardigheidskole berei leerders uitsluitlik voor vir ‘n ambag, en lei hulle ook daarin op. Dit moet nie met Tegniese skole verwar word nie.
Indien die leerder nie verder wil of kan studeer nie – kom ons wees eerlik hieroor, die geleenthede en beskikbaarheid van universiteite en kolleges bied nie vir almal die opsie om aan ‘n tersiêre instansie te behoort nie – kan hy/sy dadelik na skool inskakel by die talle werksgeleenthede wat die industrie bied. Van hierdie firmas help die leerder, op hul onkoste, om verder opgelei te word, sodat ‘n hardwerkende persoon binne ‘n paar jaar sy/haar eie besigheid kan begin, of moontlik ‘n bestuursposisie kan beklee.
As u kind gereed is vir die uitdagings wat ‘n ingenieursrigting bied, is ‘n Tegniese skool die plek waar hy of sy ‘n daadwerklike voordeel kan kry.